Onbeperkte ROEPING – GEROEP – Deel 6
GEROEP tot ‘n DOELGERIGTE LEWE.
Konneksiegroep:
WELKOM:
Verwelkom: Verwelkom elke groepslid
Ysbreker: Kies een van die volgende onderwerpe en gesels daaroor:
Vertel van ‘n keer toe jy deelgeneem het in spansport.
a) Wat se reëls was daar in hierdie sport en hoekom was daar hierdie reëls?
b) Hoe het dit gevoel om as span saam te wen, of saam te verloor?
WOORD:
Open met gebed. (Gee almal ‘n geleentheid)
KERNTEKS VIR VANDAG:
Efe 4:25-31
Vermanings oor die alledaagse lewe
Daarom, vermy die leuen, en praat elkeen die waarheid met sy naaste, want ons is lede van een liggaam. Word kwaad, maar moenie sondig nie. Laat die son nie ondergaan oor julle woede nie. Moenie vir die Duiwel plek gee nie.
Die een wat nog steel, moet nie meer steel nie; hy moet eerder werk deur met sy eie hande te doen wat goed is, sodat hy iets het om vir die behoeftige te gee. Nie ‘n enkele afbrekende woord moet uit julle mond kom nie, maar eerder ‘n woord wat goed is vir noodsaaklike opbou, sodat dit voordeel mag bring vir diegene wat dit hoor. En bedroef nie die Heilige Gees van God, deur wie julle met die oog op die dag van bevryding verseël is nie. Laat vaar alle bitterheid en woede en gramskap en geskreeu en gelaster, saam met elke vorm van kwaad.
Ons kerntekse vir hierdie week is ‘n mondvol. Paulus wil vir ons raad gee oor hoe ons as Christen-gelowiges moet leef teenoor mekaar. Hy wil veral vir ons leer hoe om as Kerk (Ligaam van Christus) te LEWE. In hierdie tekse daag hy ons uit om ‘n anderste lewe te lei. ‘n Lewe wat vir die mense om ons vertel dat ons volgelinge van Christus is.
Paulus daag ons uit om DOELGERIG te LEWE. Nie net te lewe soos al die ander mense om ons nie, maar om met ‘n DOEL te LEWE. ‘n Lewe wat aan God toegewyd is. ‘n Lewe wat ‘n voorbeeld is en ‘n lewe wat ander vertel van die verlossing wat ons verkry het deur Jesus Christus se dood en opstanding.
Die Evangelie het ‘n duur prys gekos. Christus het Sy lewe vir die evangelie en die kerk (Sy Liggaam) gegee. Hy het van die skepping af DOELGERIG te werk gegaan met die skepping en met mense se LEWENS. Om doelloos te lewe is nie in Christus se plan vir Sy mense nie. Deur te doen wat Paulus vir ons vra in Efe 4:25-31 is ons besig om DOELGERIG te LEWE. Wanneer ons gehoorsaam is aan hierdie instruksies LEWE ons met ‘n DOEL.
WORSHIP – Aanbidding – https://woordenlewe.com/connect-worship/
WERKE en vrae:
ONBEPERK 24 – Onbeperkte ROEPING.
As Konneksiegroep spandeer net so 5-10 minute voor julle verdaag in stilte en elke lid beantwoord vir homself/haarself die vrae hieronder. Skep ‘n rustige atmosfeer en laat toe dat die Here met elkeen afsonderlik praat.
Gebruik die woorde: “’n DOELGERIGTE LEWE” as jou vertrek punt.
1. Wat dink jy beteken dit om DOELGERIG te LEWE?
2. Hoe kan jy LEWE met ‘n DOEL vir die mense om jou?