Sundays from 8:30 · Boksburg and Benoni WnL Network Giving

Kalibreer Deel 2

Markus 4:23-24 (83)

“As iemand ore het en kan hoor, moet hy luister!”

 

Hy het ook vir hulle gesê: “Gee aandag aan wat julle hoor! Want met die maat waarmee julle meet, sal vir julle gemeet word en daar sal vir julle nog toegevoeg word.

 

Konneksiegroep:

  • Kies EEN AAND ‘n week om julle konneksiegroep te hou.
  • Vra elke lid van jou konneksiegroep om hulle Bybel saam te bring.
  • Indien julle wil kan julle weer saam nagmaal gebruik.

 

WELKOM

 

Verwelkom: Verwelkom elke groepslid

 

Ysbreker: Kies een van die volgende onderwerpe en gesels daaroor:

 

a) Is jy natuurlikerwys meer soos ‘n “termometer” (wat net die temperatuur en gemoed van ‘n kamer aanneem en reflekteer) of ‘n “termostaat” (wat die atmosfeer en temperatuur in ‘n vertrek beheer en verander)? Vertel van ‘n situasie waar jou ingesteldheid die hele atmosfeer om jou verander het.

b) Dink aan ‘n tyd toe dinge vir jou baie sleg of donker gelyk het, soos ‘n figuurlike “tronk”. Watter rol het musiek (lofprysing) of gebed al gespeel om jou uit daardie gemoedstoestand te kry?

 

WOORD

 

Gebed:

Open met gebed. (Gee almal ‘n geleentheid)

 

Lees: 

KERNTEKSE VIR VANDAG:

 

Kolossense 3:1-2 (83)

Aangesien julle saam met Christus uit die dood OPGEWEK is, moet julle strewe na die dinge daarbo waar Christus is … RIG (kalibreer) julle gedagtes op die dinge wat daarbo is, nie op die dinge wat op die aarde is nie …

 

Romeine 12:2 (53)

… word nie aan hierdie wêreld GELYKVORMIG nie, maar word verander deur die VERNUWING van julle gemoed, sodat julle kan BEPROEF (meet) wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is.

 

Handelinge 16:25-26 (53)

… omtrent middernag het Paulus en Silas GEBID en lofliedere tot eer van God GESING; en die gevangenes het na hulle GELUISTER. En skielik kom daar ‘n groot aardbewing, sodat die fondamente van die gevangenis GESKUD het. En onmiddellik het al die deure OOPGEGAAN en die boeie van almal het LOSGERAAK.

 

Gesels in julle Konneksiegroep oor die volgende:

 

KALIBRASIE is die fyn instel van ‘n instrument volgens ‘n gegewe standaard sodat dit betroubare en akkurate metings kan gee.

 

Hierdie week delf ons verder in die tema van kalibrasie. Ons kyk spesifiek na hoe ons die “Atmosfeer-Beheer” in ons lewens kan toepas; met ander woorde, om op te tree soos ‘n termostaat wat die omgewing beïnvloed, eerder as ‘n termometer wat net die omgewing se temperatuur reflekteer.

 

Paulus vermaan ons in Kolossense 3:1-2 dat ons as opgewekte gelowiges ons gedagtes moet kalibreer of rig op die dinge daarbo, en nie op die dinge wat op die aarde is nie. Romeine 12:2 herinner ons verder dat ons nie aan hierdie wêreld gelykvormig moet word nie, maar dat ons gemoed vernuwe moet word sodat ons kan beproef en meet wat God se volmaakte wil is. Dit beteken die maat waarmee ons meet, moet verander sodat dit ooreenstem met die hemelse standaard, en nie die aardse een nie.

 

Die wonderlike krag van atmosfeer-beheer sien ons in die storie van Paulus en Silas in Handelinge 16. Terwyl hulle in die donker gevangenis was, het hulle die atmosfeer totaal verander; omtrent middernag het hulle tot eer van God gebid en gesing, en skielik het ‘n aardbewing die deure oopgemaak en almal se boeie het losgeraak.

 

3 praktiese maniere hoe ons die atmosfeer kan beheer of kalibreer:

 

  1. Lofprysing:

Soos wat daar in 2 Kronieke 20:21-22 staan, toe die mense die Here begin loof en sing, het Hy veroorsaak dat die vyand se leërs onder mekaar begin veg.

  1. Praat die Woord:

Spreuke 18:21 waarsku dat die tong mag het oor lewe en dood, en dat ons moet saamleef met die gevolge van ons woorde.

  1. Vas en Gebed (Tale):

Volgens Jesaja 58:6 breek vas die jukke en laat dit die onregverdiges vry. Handelinge 4:31 wys hoe vurige gebed die plek kan skud en mense met die Heilige Gees kan vervul om met vrymoedigheid God se Woord te spreek.

 

Lees weer Vandag se tekse en gesels daaroor:

a) In Romeine 12:2 word ons beveel om nie aan hierdie wêreld gelykvormig te word nie. Hoekom dink jy is dit vir ons soms makliker om ‘n “termometer” te wees wat inskakel by wêreldse negatiwiteit, in plaas daarvan om as ‘n veranderde “termostaat” die goeie en volmaakte wil van God na ‘n situasie te bring?

b) Dink na oor die 3 praktiese maniere om die atmosfeer te beheer: Lofprysing, Praat van die Woord, en Vas en Gebed. Watter een van hierdie areas pas jy reeds met sukses toe, en watter een vereis die dringendste “fyn instelling” (kalibrasie) in jou geestelike wandel hierdie week?

 

Aanbidding – https://woordenlewe.com/connect-worship/

Maak tyd om vandag God te aanbid, gebruik die playlist wat op ons Woord en Lewe webwerf is onder Connect, of gebruik die aanbidding wat Sondag tydens die diens gedoen was. 

 

WERKE en vrae:

Gebruik nou Nagmaal saam as Konneksiegroep:

Liefde vir God, Liefde vir Mense


As Konneksiegroep spandeer net so 5 minute voor julle verdaag in stilte en elke lid beantwoord vir homself/haarself die vrae hieronder. Skep ‘n rustige atmosfeer en laat toe dat die Here met elkeen afsonderlik praat. 

 

  • Ondersoek jou rigting: Toets jou gedagtes. Is jou aandag en gedagtes werklik gerig op die dinge daarbo, soos Kolossense 3:1-2 vra, of laat jy aardse dinge jou asmaat verander?
  • Dink na oor jou woorde: Bely in stilte waar jou tong die afgelope tyd dalk dood eerder as lewe gespreek het, en onthou die waarskuwing van Spreuke 18:21. Neem ‘n besluit om van vandag af lewe te spreek oor jou situasies.
  • Ondersoek jou aanbidding: As jy in ‘n middernag-uur of donker seisoen in jou lewe is, is jou onmiddellike reaksie om God te loof en te bid, soos Paulus en Silas gedoen het (Handelinge 16:25-26)?
  • Vra God vir vrymoedigheid: Bid en vra God om jou met die Heilige Gees te vervul, sodat jy die Woord met vrymoedigheid kan spreek en sodat jou gebede boeie sal losmaak en vryheid bring (Handelinge 4:31, Jesaja 58:6).