1 Joh 2:15-17 (53)
Moenie die wêreld liefhê of die dinge wat in die wêreld is nie … die begeerlikheid van die VLEES (seks) en die begeerlikheid van die OË (geld) en die grootsheid van die lewe (mag) … is uit die wêreld. En die wêreld gaan verby en sy begeerlikheid, maar hy wat die WIL van God doen, bly vir EWIG.
Konneksiegroep:
WELKOM
Verwelkom: Verwelkom elke groepslid
Ysbreker: Kies een van die volgende onderwerpe en gesels daaroor:
a) Wat is ‘n reël of grens wat jou ouers in die huis gestel het toe jy grootgeword het wat jy destyds gehaat het, maar nou heeltemal verstaan en waardeer?
b) As jy eerlik moet wees, watter moderne afleiding of tegnologie vat te veel van jou tyd of aandag in beslag?
WOORD
Gebed:
Open met gebed. (Gee almal ‘n geleentheid)
Lees:
KERNTEKSE VIR VANDAG:
2 Sam 11:1-2 (83)
In … die tyd waarin die konings gewoonlik optrek om OORLOG te maak, het Dawid … in Jerusalem AGTERGEBLY … Van die dak af het hy ‘n vrou sien bad. Sy was ‘n baie mooi vrou.
2 Sam 11:4 (83)
Dawid het toe amptenare GESTUUR en haar laat HAAL … Sy het na hom toe gekom, en hy het by haar geslaap.
2 Sam 11:27 (83)
Sy het sy vrou geword en vir hom ‘n seun in die wêreld gebring. Maar wat Dawid GEDOEN het, was VERKEERD in die oë van die Here.
2 Sam 12,13 (83)
So sê die Here: Van nou af gaan Ek uit jou eie huis ELLENDE oor jou bring… Toe sê Dawid vir Natan: “Ek het GESONDIG teen die Here.” En Natan sê vir hom: “Die Here het jou sonde VERGEWE: jy sal nie nou sterwe nie.
Gesels in julle Konneksiegroep oor die volgende:
In hierdie reeks leer ons van die verskil tussen God se weë en die wêreld se weë. Ons kyk ook na die leuen van eienaarskap en die waarheid van rentmeesterskap.
Vandag fokus ons spesifiek op “die begeerlikheid van die vlees”, wat in ons moderne kultuur baie sterk aan seksualiteit en wellus gekoppel is.
God het seks geskep as iets pragtigs en heilig – ‘n intieme band wat bedoel is vir die veilige omgewing van die huwelik. Die wêreld, daarenteen, het hierdie geskenk verdraai na iets selfsugtig, toevallig en onversadigbaar.
Wanneer ons weer na die verhaal van Dawid en Batseba kyk, sien ons hoe vinnig ‘n mens aan die vlees kan toegee. Dawid se sonde het nie in die slaapkamer begin nie; dit het begin toe hy op die verkeerde plek was, en toe hy gekyk het en bly kyk het. Sy magsposisie het hom in staat gestel om sy wellus uit te voer, maar dit was die begeerlikheid van die vlees wat die oorsaak van sy val was.
Ons leer egter ook dat daar altyd hoop, genade en vergifnis by God is wanneer ons onsself verootmoedig en ons sonde bely, net soos Dawid gedoen het nadat Natan hom gekonfronteer het.
Lees weer Vandag se tekse en gesels daaroor:
a) Die wêreld probeer ons oortuig dat grense rondom seksualiteit “outyds” is en dat absolute seksuele vryheid tot geluk lei. Hoekom glo ons as Christene dat God se grense rondom seks (binne die huwelik) eintlik daar is om ons te beskerm en aan ons ware vryheid en heelheid te gee?
b) Jesus sê in Matteus 5:28 dat elkeen wat na ‘n vrou kyk om haar te begeer, reeds in sy hart met haar egbreuk gepleeg het. Ons word vandag konstant gebombardeer met seksuele beelde op sosiale media, TV, reekse en die internet. Wat is praktiese maniere of verdedigingslinies (grense) wat ons in ons eie lewens (en in ons gesinne) kan instel om ons oë, gedagtes en harte rein te hou teenoor die dinge van die wêreld?
WORSHIP
Aanbidding – https://woordenlewe.com/connect-worship/
Maak tyd om vandag God te aanbid, gebruik die playlist wat op ons Woord en Lewe webwerf is onder Connect, of gebruik die aanbidding wat Sondag tydens die diens gedoen was.
WERKE en vrae:
Gebruik nou Nagmaal saam as Konneksiegroep:
Liefde vir God, Liefde vir Mense
As Konneksiegroep spandeer net so 5 minute voor julle verdaag in stilte en elke lid beantwoord vir homself/haarself die vrae hieronder. Skep ‘n rustige atmosfeer en laat toe dat die Here met elkeen afsonderlik praat.