Sundays from 8:30 · Boksburg and Benoni WnL Network Giving

Kalibreer Deel 1

Markus 4:23-24 (83)

“As iemand ore het en kan hoor, moet hy luister!”

Hy het ook vir hulle gesê: “Gee aandag aan wat julle hoor! Want met die maat waarmee julle meet, sal vir julle gemeet word en daar sal vir julle nog toegevoeg word.

 

Konneksiegroep:

  • Kies EEN AAND ‘n week om julle konneksiegroep te hou.
  • Vra elke lid van jou konneksiegroep om hulle Bybel saam te bring.
  • Indien julle wil kan julle weer saam nagmaal gebruik.

 

WELKOM

Verwelkom: Verwelkom elke groepslid

 

Ysbreker: Kies een van die volgende onderwerpe en gesels daaroor:

a) Het jy al ooit ‘n snaakse of frustrerende ervaring gehad waar ‘n GPS jou heeltemal op die verkeerde pad of op ‘n onbekende pad gelei het? Deel jou storie met die groep.

b) As jy eerlik moet wees, dink jy dit is in jou eie krag moontlik om altyd “perfek” te wees in als wat jy doen? Hoe hanteer jy dit wanneer dinge glad nie volgens jou eie beplanning uitwerk nie?

 

WOORD

Gebed:

Open met gebed. (Gee almal ‘n geleentheid)

 

Lees: 

KERNTEKSE VIR VANDAG:

Kolossense 3:2 (NLV)

Laat julle gedagtes beheer word deur die hemelse dinge, nie deur dinge op die aarde nie.

 

Spreuke 3:5-6 (NLV)

Vertrou op die Here met alles wat jy het. Moenie staatmaak op jou eie insigte nie. Vra na die wil van God in alles wat jy doen. Hy sal die regte pad vir jou wys.

 

Jesaja 53:6 (83)

Ons het almal gedwaal soos skape, ons het elkeen sy eie pad geloop, maar die Here het ons almal se sonde op hom laat afkom.

 

Gesels in julle Konneksiegroep oor die volgende:

Hierdie week kyk ons na wat dit werklik beteken om ons lewens van nuuts af te “kalibreer” – om onsself in te stel en in lyn te bring met God se wil.

As mense is ons natuurlike geneigdheid om onafhanklik te wil wees; soos Jesaja 53:6 ons herinner, het ons almal gedwaal soos skape en elkeen het sy eie pad begin loop. Om ons weer op die regte koers te kry, het ons ‘n geestelike “G.P.S.” nodig. Ons is dikwels geneig om ons eie lewens aan ander mense s’n te meet, maar Lukas 18:19 sê duidelik dat niemand werklik goed is behalwe God nie, en in Matteus 5:48 word die maatstaf gestel dat ons volmaak moet wees soos ons hemelse Vader.

 

Om by hierdie standaard uit te kom, verg ‘n verandering in hoe ons dink. 2 Korintiërs 4:4 waarsku ons dat die god van hierdie wêreld maklik ons sinne verblind sodat ons in die donker rondtas. Ons raak vasgevang in ‘n aardse manier van dink en maak staat op ons eie insigte. Tog roep Kolossense 3:1-2 ons op dat, aangesien ons saam met Christus opgewek is, ons moet strewe na die dinge daarbo; ons moet doelbewus toelaat dat ons gedagtes deur hemelse dinge beheer word, nie deur dinge op die aarde nie. Dit beteken ons moet Spreuke 3:5-6 prakties uitleef: ons moet ophou staatmaak op ons eie logika en eerder op die Here vertrou, dan sal Hy vir ons die regte pad wys.

 

Die wonderlike goeie nuus is dat as ons onsself deur die Gees van God laat beheer (Romeine 8:9), ons die belofte in Jesaja 30:21 het: selfs wanneer ons dalk effens van koers afdwaal, sal ons Sy stem agter ons hoor sê: “Hier is die pad, loop hierlangs”.

 

Lees weer Vandag se tekse en gesels daaroor:

a) Spreuke 3:5-6 beveel ons om op die Here te vertrou en nie op ons eie insigte staat te maak nie. As ons dink aan die konsep van God se Perfekte Standaard (G.P.S), hoekom vind ons as gelowiges dit soms so uitdagend om werklik beheer oor te gee en God in alles te ken?

b) In Jesaja 30:21 beloof die Here dat as ons die regte koers verlaat, ons ‘n stem agter ons sal hoor wat sê: “Hier is die pad, loop hierlangs.” Hoe kan ons in ons besige daaglikse lewens beter “kalibreer” (instel) om dié stem van die Gees duidelik te hoor, sodat ons deur die Gees beheer word (Romeine 8:9)?

 

Aanbidding – https://woordenlewe.com/connect-worship/

Maak tyd om vandag God te aanbid, gebruik die playlist wat op ons Woord en Lewe webwerf is onder Connect, of gebruik die aanbidding wat Sondag tydens die diens gedoen was. 

 

WERKE en vrae:

 

Gebruik nou Nagmaal saam as Konneksiegroep:

 

Liefde vir God, Liefde vir Mense
As Konneksiegroep spandeer net so 5 minute voor julle verdaag in stilte en elke lid beantwoord vir homself/haarself die vrae hieronder. Skep ‘n rustige atmosfeer en laat toe dat die Here met elkeen afsonderlik praat. 

  • Ondersoek jou eie hart: Word jou gedagtes deesdae grotendeels beheer deur jou aardse bekommernisse, of strewe jy werklik na die dinge daarbo (Kolossense 3:1-2)?
  • Dink na oor jou belydenis: Bely in stilte teenoor God enige areas waar jy dalk in eiewysheid gedwaal het en jou eie pad geloop het (Jesaja 53:6).
  • Ondersoek jou toewyding: Net soos die ryk man wat bedroef weggestap het omdat sy aardse besittings in sy pad gestaan het (Markus 10:22), is daar enigiets wat keer dat jy vandag alles gee om Jesus se voluit-dissipel te wees (Matteus 19:21)?
  • Vra God vir leiding: Bid die woorde van Psalm 25:4 en sê: “Maak my u wil bekend, Here, leer my u paaie.” Vra Hom vir Sy Gees se leiding sodat jy altyd die vrede en heiligmaking sal najaag (Hebreërs 12:14).