WAAK dan en BID altyddeur, sodat julle WAARDIG geag mag word om al hierdie dinge wat kom, te ontvlug en voor die Seun van die mens te staan.
Kies EEN AAND ’n week om julle konneksiegroep te hou.
Vra elke lid van jou konneksiegroep om hulle Bybel saam te bring.
Julle kan ook as groep nagmaal neem voordat julle groep verdaag.
Verwelkom elke groepslid
Kies een van die volgende onderwerpe en gesels daaroor:
Watter daaglikse "sorge van die lewe" is gewoonlik die dinge wat jou die maklikste ontspoor of paniekerig laat voel?
Het jy al ooit gevoel dat jy te onbelangrik, swak, of onbekwaam is om 'n groot uitdaging aan te pak (soos Gideon gevoel het)? Deel kortliks.
Open met gebed. (Gee almal ’n geleentheid)
Lees: Kerntekse vir vandag
… mense se harte (sal) BESWYK van VREES en verwagting van die dinge wat oor die wêreld kom … maar PAS op vir julleself, dat julle harte nie miskien BESWAAR word deur (die) SORGE van die lewe nie, en dié dag julle nie SKIELIK oorval nie.
So is die KONINKRYK van God, soos wanneer 'n mens die SAAD in die grond GOOI … en die saad SPRUIT uit en word groot — hoe, weet hy self nie... En dit is … waar die woord GESAAI word, maar sodra hulle dit gehoor het, kom die Satan DADELIK en neem die woord weg wat in hulle harte gesaai is.
En die Engel van die Here het aan hom verskyn en vir hom gesê: Die Here is met jou, DAPPER held! … Gaan in hierdie KRAG van jou … Ag, Here, waarmee sou ek Israel verlos? Kyk, my geslag is die SWAKSTE in Manasse, en ek self die GERINGSTE in my familie. Toe sê die Here vir hom: EK sal met jou WEES, sodat jy die Midianiete soos een man sal VERSLAAN.
Gesels in julle Konneksiegroep oor die volgende:
Dit is so maklik dat ons harte beswyk van vrees en beswaar word deur die sorge van die lewe. Soos die Midianiete telkens opgetrek het om Israel se gesaaides te verwoes sodat hulle baie arm geword het (Rigters 6:2-6), poog die vyand om dadelik die Woord wat in ons harte gesaai is, te steel sodra ons dit hoor (Markus 4:15).
Wanneer ons in onsself kyk, voel ons dalk, soos Gideon, asof ons die geringste en die swakste in ons familie of situasie is (Rigters 6:15). Maar die wonderlike nuus is dat God nie na ons eie krag kyk nie. Hy roep ons as "dapper helde" en Sy enigste vereiste is Sy teenwoordigheid: "Ek sal met jou wees" (Rigters 6:12, 16). Hy vra dat ons moet opstaan, waak, en altyddeur bid (Lukas 21:36) en in hierdie Godgegewe krag te wandel, sodat die vyand nie ons oes steel nie.
Lees weer vandag se tekse en gesels daaroor:
Lukas 21:34 waarsku dat ons harte nie beswaar moet word deur die sorge van die lewe nie. Hoe beïnvloed oormatige sorge en vrees ons geestelike lewe en ons vermoë om God se stem te hoor?
As ons dink aan Rigters 6 waar God Gideon 'n "dapper held" noem terwyl Gideon homself as die "swakste" beskou het, hoekom is dit vir ons so moeilik om onsself te sien soos God ons sien? Hoe verander Sy belofte ("Ek sal met jou wees") ons toekomsblik?
Maak tyd om vandag God te aanbid, gebruik die playlist wat op ons Woord en Lewe webwerf is onder Connect, of gebruik die aanbidding wat Sondag tydens die diens gedoen was.
As Konneksiegroep spandeer net so 5 minute voor julle verdaag in stilte en elke lid beantwoord vir homself/haarself die vrae hieronder. Skep ‘n rustige atmosfeer en laat toe dat die Here met elkeen afsonderlik praat.
Ondersoek jou hart: Het jou hart onlangs beswyk van vrees, en het die sorge van hierdie wêreld jou uitsig verdof? Is daar gebiede waar die vyand die goeie saad uit jou lewe gesteel het?
Toets jou gedagtes: Maak jy verskonings oor hoekom jy nie 'n verskil kan maak nie (soos om te dink jy is die geringste en swakste), of glo jy dat God waarlik met jou is as 'n dapper held?
Kalibreer jou fokus: Maak vandag 'n besluit om nie bitter te word oor uitdagings of sorge nie, maar om 'n kragtige bidder te word. Besluit om, soos Lukas 21 sê, waaksaam te bly en altyddeur te bid, en om in Sy krag vorentoe te gaan.